Teksmark Joburg is ’n KKNK-projek, ondersteun deur NATi en die Foxwood-teater. Aangebied in samewerking met die Baxter-teaterkompleks, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Momentum Beleggings Aardklop en die Toyota US Woordfees.
RSVP hier vir jou en jou metgesel om Teksmark Joburg 2023 by te woon.
Die doel van dié projek is om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en aan skrywers ’n geleentheid te bied om hul idees en tekste vir moontlike verdere ontwikkeling aan belanghebbendes in die teaterbedryf bekend te stel.
Wie mag deelneem?
Alle skrywers (hetsy gevestig of opkomend) kan voorstelle indien.
Hoe werk Teksmark Joburg?
Voorstelle word oorweeg om as leesteater by die Teksmark Joburg aangebied te word. Verteenwoordigers van teaters en feeste, asook vervaardigers en ander moontlike beleggers word na die Teksmark genooi.
Tydens Teksmark Joburg kry skrywers die geleentheid om oor hul teksidees te gesels. Die mark is oop vir enige van die belanghebbendes om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in, of verdere ontwikkeling van, hul tekste.
Omdat daar beperkte tydgleuwe beskikbaar is, kies ’n paneel ’n aantal tekste. Regisseurs en akteurs word in oorleg met die skrywer aangestel om die uittreksels op te voer.